Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 10 Februarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

WAT HET VAN AL DIE JONG AMATEURS GEWORD?

EERSTE SLIMFOON GEFUNDEERDE NANOSAT WORD AAN DIE EINDE VAN FEBRUARIE GELANSEER

VSA LIG UITVOERBEPERKINGS OP SATELLIETE

'n VELDTOG VIR HOËR KRAG OP BHF

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

WAT HET VAN AL DIE JONG AMATEURS GEWORD?

Dat daar nie ‘n enkele reaksie op verlede week se berig was nie laat mens vermoed daar is glad nie meer jong amateurs in Suid-Afrika nie! Hier is dan ‘n herhaling van die berig:

Die SARL beplan 'n spesiale aktiwiteit tussen 09:00 en 10:00 op Saterdag 23 Februarie om die 2013 Jeugnaelloop te vier wat van 10:00 tot 12:00 SAT plaasvind, maar om dit te doen word u stemme benodig. Julle jong radioamateurs moet ons vertel waarom julle radioamateurs geword het en hoe julle amateurradio geniet. Vertel ons wat 'koel' is omtrent amateurradio.

Die SARL sal van 13 tot 16 Februarie klankopnames maak. Stuur u besonderhede en telefoonnommer aan youth@sarl.org.za en laat ons weet watter van die aande tussen 20:00 en 21:00 u vir 'n opname beskikbaar sal wees. Klubvoorsitters moenie toelaat dat u klub in die koue gelaat sal word nie. Moedig u jong lede aan om hulle passie met ons te deel.

EERSTE SLIMFOON GEFUNDEERDE NANOSAT WORD AAN DIE EINDE VAN FEBRUARIE GELANSEER

Surrey Space Technology Limited sal die eerste van n reeks kubussatelliete wat gefundeer is op slimfone aan die einde van Februarie lanseer, die eerste een, genaamd STRaND, van n lang reeks nanosatelliete. STRaND is die akroniem vir Surrey Training, Research and Nanosatellite Demonstration. Die program word beoog as n langtermyn ooreenkoms tussen die ruimtemaatskappy SSTL en akademiese navorsers aan die Surrey Ruimtesentrum (SSC).

Die SSTL werknemers en die SSC navorsers, wat by die STRaND program betrokke is, is almal vrywilligers. Dit is n voorvereiste van die program dat hierdie vrywilligers hulle eie tyd (soos etenstye) vir die STRaND aktiwiteite sal gebruik. Die projek het geen begroting vir personeel nie en is daarom totaal van vrywilligers afhanklik.

Die innoverende amateurradio STRaND-1 kubussatelliet beplan om n Nexus Android slimfoon die ruimte in te neem om die lewensvatbaarheid van die gebruik van goedkoop slimfoonelektronika vir die beheer van n ruimtetuig te demonstreer. n Sagteware gefundeerde stemnabootser om hulde te bring aan die UOSAT familie satelliete OSCAR 9 en 11, wat gedurende die tagtiger jare gelanseer is, sal ingesluit word. n Amateurradio AX.25 pakketradio afwaartse skakel op 437,575 MHz sal teen 9k6 of 19k2 gps opereer.

VSA LIG UITVOERBEPERKINGS OP SATELLIETE

Luidens n ander ruimte verwante berig het die VSA Kongres gedurende laat Desember die verbod op die uitvoer van satelliete teruggetrek en geteken deur President Obama in wetgewing vervat. Hierdie vorige wetgewing het effektief die internasionale samewerking vir die bou van amateursatelliete verhoed.

Onder die ou wetgewing is satelliete en hulle onderdele beskou as wapentuig en die uitvoer daarvan na ander lande geweldig beperk. Dit het effektief die samewerking van amateursatellietorganisasies in verskillende lande onmoontlik gemaak. 'n Voorbeeld hiervan is die laaste groot amateursatelliet Fase 3D wat gesamentlik deur AMSAT-groepe in die VSA, Duitsland en ander lande gebou is voordat die internasionale samwerkingsooreenkoms daargestel is.

Die nuwe wetgewing beperk slegs satellietuitvoere na Sjina, Noord-Korea en lande wat as staatsbefondsers vir terrorisme geïdentifiseer is sowel as die wat aan 'n handelsverbod onderwerp is. 'n Aanbeveling van die Departement Staat en Verdediging het uitgewys dat die ou wet die vermoë van Amerikaanse satellietvervaardigers om met internasionale vennote saam te werk benadeel. Hierdie verwikkeling skep dan ook vir SA AMSAT die geleentheid om toegang te kry tot lanseringsgeleenthede in die VSA.

'n MISTERIE VAN DIE SONNESTELSEL ONTRAFEL

Volgens 'n groep sterrekundiges kan hulle nou verklaar waarom partikels van binne die sonnestelsel weerkaats van n sogenaamde band energiegrens en dan as gevolg daarvan neutrale atome van die botsingsstroom binnewaarts na die son reflekteer. Hulle beweer dat dit veroorsaak word deur n eienaardige band energie wat rondom die totale sonnestelsel kleef en dan n tipe energieveld skep wat partikels binnetoe dwing. Hierdie energieband is vir die eerste keer deur NASA se “Interstellar Boundary Explorer” of IBEX-sending waargeneem.

Sedert daardie data na die aarde teruggestuur is het sterrekundiges en wetenskaplikes reg rondom die wêreld probeer om die bron van daardie grens te identifiseer en te verklaar waarom partikels skynbaar na die Son teruggedryf word.

In n artikel wat deur die Astrofisiese Joernaal gepubliseer is het 'n groep sterrekundiges onder leiding van Dr Nathan Schwadron aan die Universiteit van New Hampshire die sogenaamde retensieteorie voorgestel. Hiermee word vir die eerste keer die sleutelwaarneming van die band se wydte verklaar. Volgens die teorie bestaan die misterieuse band in n gebied waar neutrale waterstof atome van die sonwind 'n lokale magnetiese veld van die sterrestelsel ontmoet. As gevolg hiervan word neutrale atome wat nie deur magnetiese velde beïnvloed word nie, gelaaide ione wat dan vinnig rondom magnetiese veldlyne begin wentel. Die gevolg hiervan is dan dat hierdie ione na die son teruggekaats word.

Alhoewel hierdie laaste teorie nie die eerste is wat n verklaring vir die galaktiese raaisel aanbied nie, verskaf Schwadron se hipotese 'n verklaring vir 'n belangrike sleutel wat deur ander navorsers oor die hoof gesien is. Dit is naamlik dat die vinnige rotasie golwe of vibrasies in die magnetiese veld veroorsaak en dat die gelaaide ione dan fisies vasgevang is in 'n gebied deur hierdie golwe. Dit lei dan tot die vermenigvuldiging van ioondigtheid en produseer die breër band wat waargeneem word.

Die resultaat van Schwadron se teorie is dat dit sterrekundiges 'n beter begrip kan bied van hoe die sonnestelsel met interstellulere ruimte in interaksie is. Dit kan ook insig gee in die magnetiese velde van die intersellulêre medium wat volgens sterrekundiges steeds n groot misterie bly.

'n VELDTOG VIR HOËR KRAG OP BHF

Verlede jaar was daar baie opwinding aangaande die versoek vir die verhoging van RF-krag van 400 W na 1 500 W, soos alreeds deur radioamateurs in verskeie ander lande gebruik word. Hierdie saak is tans onder bespreking tussen die SARL en OKOSA.

Hoër krag sal baie voordelig wees vir bedryf op die BHF-bande soos 50 en 144 MHz. Swak tropostrooiingseine met QSB word dikwels landwyd bedags en snags op hierdie bande waargeneem. Toetse gedoen tussen die Kaapse stasie ZS1NAZ en ZS2FM in Port Elizabeth op 50 MHz, het getoon dat 'n 100 W sein net bokant die ruisdrumpel is, maar duidelik verstaanbaar geraak het toe die krag na 400 W verhoog is. Dink net hoe 'n tropostrooiingsein sal verbeter met 'n viervoudige verhoging; dit sal meeste van die tyd landswye kommunikasie moontlik maak en met ander bedryfsmodusse sal dit nog beter wees.

Die 144 MHz band sal die meeste bevoordeel word gedurende tropostrooiing en DX-kontakte tussen Suid-Afrika en Brasilië en/of Australië moontlik maak. Hoëkrag, soliede staat liniêre versterkers werk op 50 V en is nie lewensgevaarlik nie. Verder is die ‘groot vervoerband’ 'n massiewe stroom van warm plasma op die son en verlaag dit sonaktiwiteit sowel as F2-voortplanting. NASA voorspel dat hierdie verlaging kan beteken dat die piek van sonsiklus 25, wat teen ongeveer 2025 behoort te gebeur, van die laagste in eeue kan wees.

'n Hartlike welkom aan die volgende 5 radioamateurs as lede van die SARL:
Richard Whiteway - ZR6WR;
Gideon Joubert - ZS6GFJ;
Gerhard Gericke - ZSL1057;
Richard Bigwood - ZS6BYD.

Ons vertrou dat julle 'n lang en aangename verbintenis met die SARL sal geniet.

Die SARL se ledetal staan tans op 1 684!

KLUBAFFILIASIE

Verlede week het nog 'n klub by die SARL geaffilieer. Ons verwelkom die Sutherland Amateurradioklub, ZS3OBS. Die totale aantal geaffilieerde klubs is nou 34.

Indien jy in die Sutherland/Fraserburg omgewing op reis is, luister uit vir 'n nuwe herhaler wat nou op 'n eksperimentele basis operasioneel is op 145,600 MHz smalband FM en 'n 88,5 Hz subtoon benodig. Gee asb. die Sutherland amateurs 'n roep.

Om 'n volledige lys van geaffilieerde klubs te siene te kry, gaan na die SARL se webwerf en klik op “Club Talk”.

UITSLAE VAN DIE QRP-KOMPETISIE VAN 26 JANUARIE

Daar was 119 deelnemers aan die kompetisie maar die kompetisiekomitee het slegs 18 inskrywings ontvang. Dit is 'n groot jammerte dat nie meer logstate ontvang is nie.

Francois Reyneke, ZU6FR, 12 jaar oud, het aan sy eerste kopetisie deelgeneem en het uitermate goed gevaar deur 11de te kom. Francois, hou so aan en ons sien jou in die volgende kompetisie.

Die uitslae is:
1ste - ZS2PE - 546 punte
2de - ZS2ACP - 456 punte
3de - ZS4JAN - 448 punte

Geluk aan die wenner en baie dankie aan diegene wat logstate ingestuur het.

RAE-KURSUS

Die Oos Rand Klub begin met RAE klasse vir die Mei 2013 eksamen op die 19de Februarie om 18:00 by Arrowe Park, Ebenezer Straat, Benoni. Diegene wat geintreseerd is om die klasse by te woon, moet Elize kontak by 073 490 6642.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak nog steeds laag tot baie laag gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 45.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
10 Februarie – Vandag, laaste geleentheid om nog aan die SARL se Nasionale Velddag deel te neem..
15 Februarie – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir die SARL-toekennings aan secretary@sarl.org.za.
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale aanbieding beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE, met vertalings deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003